
The Fallen Clown is spesiaal geskilder en geskenk vir Bethlehem Kindersorg ter insameling van fondse vir die instansie op 4 Desember 2010.
Synde daar fantasie in die opvoering, drama, teater, en dekor-atmosfeer sou wees die aand, het ek gedink die ballerina-nar-figuurtjie sou daardie element goed vasvang. Boonop is kinders lief vir narre want hulle simboliseer geluk, blydskap, en vreugde, maar in hierdie geval is dit hartseer, ‘n gevalle nar wat nie meer alleen kan voortgaan nie. Daar is dus ‘n groot behoefte na hulp en hoop, iets waarmee hierdie kinders kan vereenselwig. Dan is daar hulp in die wit hande wat optel en die nar weer op haar voete plaas. Soms is hierdie hulp tydelik, soms permanent. Die hande is wit omdat wit rein en opregte bedoelings simboliseer. Daardie wit hande wat jou ondersteun en help, kan jou weer op die pad van lig plaas, daarom ook die wit balletskoentjies aan haar voete. Die wit hande wat help, simboliseer die lig in jou lewe, daarom skyn daar ook lig deur die kantgordyntjie agter die nar, waarvan sy nie eens bewus is nie. Mens hoef nie altyd te weet wie die samaritaan is wat hulp aanbied nie, daarom het ek n onbekende verskuilde figuur agter haar ingeverf. Die ondersteuning en hulp is baie belangriker as wie dit verskaf.
Die simboliek in die kleure wat ek gebruik het, is soos volg; die swart in die skildery verteenwoordig die onbekende pyn en duisternis wat van hierdie kinders soms moet deurmaak. Die donker pers verteenwoordig die hartseer daaraan verbonde. Die effense groen in die agtergrond, links onder, bied daardie nodige balans, sekuriteit, en gerustheid aan ‘n gebroke wese se lewe. Ek sou graag baie meer groen daarin wou verf! Die wit simboliseer redding, DIE LIG. Laastens het ek baie rooi ingebring wat krag uitbeeld. Rooi is ‘n sterk treffende kleur wat mens maklik raaksien. Daarom moet ons die noodbehoewende aspek by kinders dadelik raaksien en nie ignoreer nie. Rooi is liefde en kragtig, daarom moet ons daadwerklik optree uit die liefde van die saak!
Is daar nie maar ook tye waar ons elkeen HULP nodig het nie?
Dit was vir my ‘n groot voorreg om hierdie skildery te verf! Geniet hierdie besonderse skildery, daar is baie meer daarin as wat jy dink.
‘n Gepaste naam vir die skildery is dus THE FALLEN CLOWN.